top of page
Search
  • annievdl7

My Diary


Hierdie dagboekinskrywing/blog post is in Afrikaans. Wie weet? Miskien gaan dit meer en meer en weer gebeur?


Die enigste Ingelse deel vandag sal die Woord wees, want ek lees die ‘Amplified Bible’, aangesien alles sterker, groter en duideliker in hierdie weergawe van die Bybel is – die intensiewe vorm van al God se sêgoed.


Week 2 van Vol Vrou Seisoen 6 https://www.facebook.com/gerrideneberglifestylecoach/ is afgehandel. In my oë het ek met vlieënde vaandels geslaag. Waaraan het ek hierdie suksesse te danke? Het ek eensklaps tonne nuwe gewoontes aangeleer en begin toepas? Het ek skielik hope selfbeheersing aan die dag begin lê? NEE!


Hierdie program van Gerridene Berg Lifestyle Coach, tesame met haar man Hykie (beter bekend as Dr Conrad van Binnelanders), is geskoei om gees, siel en liggaam in geheel gesond te maak. My aanvanklike intensie - 2 seisoene gelede – was om ‘n paar kilo’s af te skud en ek het gehoop dat my kompeterende sy vir my ‘n paar bederwe in die sak sou bring. Ja, die pryse as eksterne motivering, pas ook so reg in my kraal.

Ek het ‘n broertjie dood aan mense wat sosiale media as ‘n dagboek gebruik, maar skielik verstaan ek diesulkes, en ook myself, beter. Ons omstandighede en daaglikse doen en late is elkeen van ons se verwysingsraamwerk. Die Vader gebruik elke gebeurtenis, elke hoogtepunt en laagtepunt, om Sy Koninkryk uit te brei, om Sy Koninkryk te laat kom – reeds op hiérdie bodem.

Ek skryf my suksesse toe aan één vers – ‘n baie bekende vers. Die meeste van ons het reeds vroeg in ons bestaan hierdie Woord gememoriseer en in ‘n magneet op die yskas geverbilaseer. Ja, ek besef verse moet in konteks gelees word. Dis een van my mees herhaalde ‘preke’. Die feit bly egter staan dat elke letter en woord uit die Vader se mond vir ons ‘n PERSOONLIKE openbaring moet wees. Sonder Sy Gees in ons sal dit blote kennis wees, sonder impak, sonder liefde, lewe of groei. Ons verval in dooie werke, en kry soms selfs die genoegdoening om daaroor te spog. Sonder Sy leiding, ly ons.


2 Corinthians 10:17 AMP “However, ‘LET HIM WHO BOASTS BOAST IN THE LORD.’”


Sonder om iemand anders te blameer, het ek deel geraak van die rotresies. Soos ander van ons, het ek myself verskoon: “Ek is besig met goeie werk.” Maar hierdie goeie werk het vinnig verander in ‘goeie werke’ – DOOIE WERKE. Dit het nie oornag gebeur nie. Hoe besiger ek geraak het met die dinge van die Here, hoe minder besig het ek geraak met die Here van die dinge. Ek het moeg geraak… tot die dood toe moeg en uitgeput. ‘Burnout’ was skielik nie meer net vir ander nie. Dit het ook aan my deur kom klop.

Soggens het ek, oudergewoonte, heel eerste my dagstukkie bestudeer – sommer so in die bed of op die toilet. Skietgebedjies het deel geword van my daaglikse roetine – mens kan mos heeldag met die Here praat, het ek myself getroos. ‘Hy is jou konstante Metgesel, oral waar jy is en oral waar jy gaan’, het ek my verontskuldig. Terwyl my brein en lyf nog vars en fris was, het ek dan heel eerste voor die rekenaar ingeskuif voordat my kreatiewe denke die pad vat en voordat ek in die pad val. My paaie het begin krom en skeef raak, daar was nou grondpaaie vol klippe en glysand wat ek moes baasraak. Ek het begin verlang na die smooth, scenic route.


En TOE…TOE (slegs ‘n week gelede) kom raak die Vader my aan en openbaar aan my hoé Hy na my verlang, na ons gesprekke, na ons kwaliteit-tyd. (Interessant dat kwaliteit-tyd en aanraking my liefdestaal is).


Uitbranding is ‘n realiteit! Maar… miskien het ons net onsself te blameer omdat ons nooit NEE sê nie.

Laat ons onsself ondersoek en ons prioriteite regkry. As ek Mattheus 22:37-39 korrek verstaan, lyk die volgorde van prioriteite so:

  1. God

  2. Jy

  3. Ander

"Jesus replied, “‘You must love the Lord your God with all your heart, all your soul, and all your mind.’ This is the first and greatest commandment. A second is equally important: ‘Love your neighbor as yourself.’"


Stem jy saam? Offer jy jou eie gesondheid (jou siel en liggaam) op om ander te red, jou werk te red, of om jou geluk te koop? Verwar ons self-opoffering met nederigheid? Wie wil ons verbly? God, of mense? Wie wil ons dien? God, of mense? Wie/wat plaas ons EERSTE?

Nie een van die twee bogenoemde gedeeltes is egter daardie EEN VERS waarvan ek vroeër gepraat het nie. Hulle het net as inleiding gedien. Omdat die Heilige Gees ‘n ‘gentleman’ is, was hierdie woorde ysbrekers (letterlik) van wat Hy eintlik vir my wou sê:


Matthew 6:33 AMP “But first and most importantly seek (aim at, strive after) His kingdom and His righteousness [His way of doing and being right—the attitude and character of God], and all these things will be given to you also.”


Nou ja toe! Verskoon my! Ek het ‘werk’ om te doen! Ek het EERS ‘n date met Jesus!

43 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page